Micheal-nel-prosthesis

Sportredaksie

Hermanus. – Krukke, ’n kunsbeen en yslike druk.

Dit klink allermins soos ’n resep vir goeie stelskopwerk, maar die 13-jarige Tiaan Boshoff het gister voor sy Storm­ers-helde koelkop gebly en die bal twee keer ná mekaar deur die Laerskool Hermanus se rugbypale gejaag.

Hy is elke keer luidkeels toegejuig deur die Stormers-oefengroep, wat Springbokke soos Schalk Burger, Bryan Habana, Andries Bekker en Jean de Villiers insluit.

Tiaan is sonder bene gebore.

“Hy het ’n ongelooflike gawe,” het Burger, wat vanjaar weer die Stormers se kaptein is, gesê.

“As jy so iets sien, waardeer jy die lewe net meer. Daar is dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Hierdie wys net dat jy moet waardeer wat jy het.”

Die druk het ná Tiaan se skoppe na Habana verskuif om te sien of hy die tiener dit kon nadoen.

Habana se skop was net-net oor en het nie naastenby soveel geesdrif by sy spanmaats ontlok nie.

Leave a Comment